Oor Ons

Possumus – Ja, ons kan!

01Ons word dikwels gekonfronteer met uitdagings wat die potensiaal het om ons hoop vir die toekoms te steel. Nuuskantore saai ‘n boodskap van ‘n verdeelde samelewing uit waar daar al hoe minder aanvaarding en begrip vir mense is wat anders dink, lyk en optree. Mense bedryf agendas en programme vir eie gewin sonder om die impak wat dit op die toekoms mag hê, in ag te neem. Hulle selfverryking is die enigste meetsnoer en die verspreiding van negatiwiteit, wanhoop en valse beloftes staan sentraal in die verwagting van ‘n hopelose einde.

Ek nooi dié doemprofete na Laerskool Brackenfell en in die gees van ons leuse, Possumus – ja, ons kan,  verkondig ons kinders ‘n storie van hoop wat elke dag in ons klaskamers, op ons speelgronde en op die sportveld afspeel.

Verskillende tale weerklink wanneer leerders met mekaar kommunikeer; sonder die invloed van bewegings wat tale wil bevorder of onderdruk. Die taal wat hulle gebruik is irrelevant en onbewustelik, want die uiteindelike doel is om mekaar te verstaan. Hulle verkondig die boodskap: Possumus – Ja, ons kan!

Leerders tree aan in klaskamers, vir sportspanne en tydens kultuuraktiwiteite - onbewus van die persoon wat langs hom of haar staan, leef en speel. Hulle neem as ‘n eenheid deel en gee eer aan ons Skepper vir hul Godgegewe talente. Hulle verkondig die boodskap: Possumus – Ja, ons kan!

Klasmaats, spanmaats en mede-deelnemers word onvoorwaardelik ondersteun. Saam word daar gestreef en word daar sukses behaal op akademiese, sport- en kultuurgebied. Hulle verkondig die boodskap: Possumus – Ja, ons kan!

Die geloof in jou vermoë om ‘n verskil te maak en die strewe na uitnemendheid vorm die basis van die opvoedkundige filosofie by Laerskool Brackenfell. In venootskap met ouers, voogde en vriende van die skool poog ons om leerders in hul geheel te ontwikkel sodat hulle getuienis ons herinner om die toekoms afwagtend tegemoet te kan gaan, want hulle glo: Possumus – Ja, ons kan! - Mnr. E.F. Coetzee (Skoolhoof)

logo final